Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
Mei 8, 2026

Jan Blohm Stel Nuwe Album Tot Daar Waar Die Lig Is Bekend

Die bekroonde Afrikaanse sanger-liedjieskrywer Jan Blohm keer terug met ’n nuwe, diep persoonlike album, Tot Daar Waar Die Lig Is — ’n projek wat voel soos ’n belydenis, ’n gebed, ’n terugblik en ’n nuwe begin.

Met hierdie album neem Blohm luisteraars op ’n eerlike reis deur liefde, verlies, verslawing, geloof, selfaanvaarding en uiteindelik hoop. Tot Daar Waar Die Lig Is, is nie bloot ’n versameling liedjies nie, maar ’n hoofstuk wat toegemaak word — en ’n nuwe een wat begin.

“Ek probeer elke keer nader en nader aan die lig kom,” sê Blohm. “Met Tot Daar Waar Die Lig Is probeer ek eerliker wees — nie net met die kop nie, maar met die hart. Partykeer moet ons besef wat ons voel, eerder as wat ons dink, want ons breine lieg vir ons siele en vir ons harte.”

Die album se titel dra die kern van die projek: ’n beweging weg van donkerte, weg van ou wonde en ou stories, na ’n plek waar lig weer moontlik is. Vir Blohm is dit ’n album oor oorlewing, maar ook oor oorgawe.

“Ek is halfpad in my lewe,” sê hy. “My eerste helfte was rock & roll. My tweede helfte wil ek graag anders doen. Ek het 50 jaar se op en af en duisternis beleef. Nou wil ek kyk hoeveel ek in die lig kan leef.”

Op Tot Daar Waar Die Lig Is gebruik Blohm musiek as ’n veilige plek vir waarheid. Die lirieke beweeg tussen die persoonlike en die poëtiese — soms direk, soms “tussen die lyne” — maar altyd met ’n rou emosionele eerlikheid wat sy gehoor al vir jare ken en vertrou.

“Musiek gee my ’n platform om eerlik te wees,” verduidelik hy. “’n Mens praat metafories, jy probeer dinge sê sonder om dit te hardop of te spesifiek te maak, maar steeds met mense se harte te praat.”

Die album verken liefde in al sy vorme: romantiese liefde, verlange, ou verhoudings, liefde vir ’n kind, liefde vir plekke, en uiteindelik die liefde wat Blohm as ’n terugkeer beskryf. In die lied “Beautiful” sing hy oor sy dogter, en die onskuld wat kinders in die wêreld inbring.

“Sy is die beautiful in my,” sê hy. “’n Kind is ’n herinnering aan daardie beautiful innocence — aan hoe ons eens was voordat die wêreld begin breek het.”

Plekke speel ook ’n sterk rol in die album. Die Kaap, Gordon’s Baai en ander ruimtes word draers van herinneringe, verhoudings en verliese. Vir Blohm is die plek nooit net ‘n agtergrond nie; dit word deel van die emosie.

“Die goeters wat ons bou, word op ’n stadium weer stof,” sê hy. “Maar die journey, die memories, kan niemand wegvat nie.”

Een van die mees aangrypende temas op die album is die idee dat storms verbygaan — maar nie sonder om iets agter te laat nie. Blohm keer telkens terug na die beeld van stukkende goed, en die krag wat in gebrokenheid lê.

“Stukkende goed kan niemand breek nie,” sê hy. “Die enigste manier om regtig onbreekbaar te wees, is om stukkend te wees. Vir my gaan dit oor selfaanvaarding — oor waar jy is.”

Die album spreek ook Blohm se donkerder oomblikke met openhartigheid aan. Hy praat eerlik oor whisky, cocaine, verdowing en die pogings om pyn te probeer stilmaak.

“Whisky en cocaine was oplossings vir probleme wat ek nie verstaan het nie,” sê hy. “Dit was nooit my probleem nie. Ek het ’n hartprobleem gehad, en ek het my hartprobleme probeer fix met dinge wat nie ewig kan hou nie.”

Vir Blohm lê ware verandering in geloof. Hy glo mense kan verander — maar nie alleen nie.

“Daar is definitief wonderwerke,” sê hy. “Ek glo mense kan verander, maar in my geval is dit deur Jesus Christus. Solank ek die pad stap wat ek glo Hy vir ons gesit het, is ek nie dors nie. Daai gat bly toe.”

Hoewel sommige van die liedjies oor verlange en verlies handel, sê Blohm die album gaan nie bloot oor eensaamheid nie. Dit gaan eerder oor konneksie, nederigheid en die moed om hulp te vra.

“Ek dink nie dit gaan regtig oor alleen wees nie,” sê hy. “Ek is gemaklik met myself. Maar soms moet ’n mens kan opstaan en sê: ek kan dit nie alleen doen nie, ek het hulp nodig.”

Met Tot Daar Waar Die Lig Is hoop Blohm dat luisteraars die album van begin tot einde as ’n reis sal ervaar — een wat deur donkerte beweeg, maar nie daarin bly nie.

As hy die album in drie woorde moes beskryf, sou dit kon wees: eerlik, gebroke, lig.

Na die albumvrystelling wil Blohm die produksie verder laat groei. Sy droom is om Tot Daar Waar Die Lig Is uit te bou tot ’n groter verhoogervaring waar musiek, beeldende kuns en uitvoerende kuns bymekaarkom.

“Ek wou nog altyd groot produksies doen — amper soos musiekblyspele,” sê hy. “Ek wil kuns, musiek en performance bymekaar bring.”

Tot Daar Waar Die Lig Is is Jan Blohm op sy eerlikste: ’n kunstenaar wat terugkyk sonder om vas te val, wat sy wonde erken sonder om daarin te verdrink, en wat met oop hande vorentoe beweeg — tot daar waar die lig is.

Volg vir Jan Blohm op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm