Vir die vyfjarige Janko van Boksburg was daar net een tema vir sy verjaarsdagpartytjie: Pieter Pruis. Wat hy nie geweet het nie, was dat sy gunstelingkunstenaar self by die partytjie sou opdaag. Intussen maak Pieter gereed vir die vrystelling van sy nuwe enkelsnit, “Mooi Maar Gevaarlik”, waarmee hy ’n meer speelse kant van homself wys.
Die meeste vyfjariges droom van ’n partytjie met superhelde, dinosourusse of hul gunsteling tekenprentkarakters. Maar nie Janko van Boksburg nie. Vir hom was daar net een opsie: ’n Pieter Pruis-partytjie.
Janko is só ’n groot aanhanger van die Afrikaanse sanger dat hy sy ma gevra het om sy hele verjaarsdagviering rondom Pieter te beplan. Selfs die uitnodigings is ontwerp om soos een van Pieter se albumomslae te lyk.
Maar die grootste verrassing het nog voorgelê.
Later daardie dag het Pieter self by die Birchwood Spur opgedaag, met ’n reuse kitaarvormige koek in die hand, om die jong verjaarsdagseun te verras.
Wat gevolg het, was ’n besonderse ontmoeting tussen ’n kunstenaar en een van sy jongste aanhangers.
Janko het ook ’n kitaar vir sy verjaarsdag gekry, ’n geskenk van sy ma. Dit het nie lank geneem voordat hy en Pieter saam begin musiek maak en sing het nie.
Vir Janko was dit ’n geleentheid om saam met sy held te sing. Vir Pieter was dit ’n herinnering aan hoe ver sy musiek mense kan bereik, selfs dié wat nog maar net vyf jaar oud is.
Van ’n verjaarsdagverrassing tot ’n nuwe enkelsnit
Terwyl Pieter harte onder sy jongste aanhangers wen, is hy ook gereed om ’n meer ondeunde kant van homself met sy nuwe enkelsnit, “Mooi Maar Gevaarlik”, te wys.
Die lied vertel die storie van ’n man wat homself belowe het dat hy nie weer so maklik sy hart gaan verloor nie. Maar dan stap daar ’n vrou by die vertrek in wat al sy goeie voornemens by die deur laat uitvlieg.
“Daar is iets lekker aan die idee dat jy weet jy kan dalk jou hart op die spel plaas, maar jy wil steeds die kans waag. Ek dink baie mense kan met daardie gevoel identifiseer,” vertel Pieter.
Met ’n energieke popklank, ’n refrein wat maklik saamsing en ’n goeie skeut selfspot, speel Pieter met daardie bekende stryd tussen kop en hart.
Want almal ken seker daardie een persoon wat jou kop deurmekaar kan krap sonder om eens hard te probeer.
“Die woord ‘gevaarlik’ verwys hier nie na iemand wat noodwendig sleg is nie, maar eerder na iemand wat jou kop deurmekaar kan krap sonder om eens hard te probeer,” verduidelik Pieter. “Dis die tipe vrou wat jou laat dink jy het beheer oor die situasie, totdat sy glimlag en jy besef jy het dalk nooit regtig beheer gehad nie.”
Die man in die lied weet hy moet versigtig wees, maar hy kan homself nie help nie. Hy wil nader stap, haar vra om te dans en kyk waarheen die aand hom neem.
“Ek dink hy is reeds diep onder haar bekoring! Hy weet hy moet versigtig wees, maar terselfdertyd wil hy nader beweeg,” sê Pieter.
En soos enige man wat al ’n bietjie te vinnig verlief geraak het, hardloop sy gedagtes sommer vooruit. Voor hulle nog behoorlik saam gedans het, wonder hy reeds of sy dalk die een kan wees.
“Soms begin ’n groot storie met ’n klein oomblik,” sê Pieter.
’n Nuwe klankbaan vir die dansvloer
Met “Mooi Maar Gevaarlik” wys Pieter ’n meer speelse kant van homself.
Die lied kombineer ’n energieke popklank met ’n aansteeklike refrein en ’n storie wat nie te ernstig opgeneem moet word nie.
Pieter wou iets skep wat mense laat glimlag, hul voete laat beweeg en dalk selfs die moed gee om daardie een persoon op die dansvloer nader te trek.
“Dalk herinner dit iemand aan ’n aand toe hulle iemand spesiaal ontmoet het, hul eerste dans met iemand, of daardie oomblik toe hulle uiteindelik die moed gehad het om die eerste stap te neem,” vertel hy.
Van ’n vyfjarige aanhanger wat sy verjaarsdag saam met sy held kon vier tot ’n nuwe liedjie oor die opwinding van verlief raak, bly Pieter Pruis se musiek deel van mense se persoonlike stories.
En met “Mooi Maar Gevaarlik” herinner hy ons dat ’n mens soms maar die kans moet waag.
Al weet jy die moeilikheid kom.









