Des 12, 2025

“My Bra”: Juan Boucher & Sanfrandisco Vier Ware Vriendskap Met Nuwe Enkelsnit

Die rasperstem-sanger Juan Boucher  een van Suid-Afrika se mees geliefde Afrikaanse kunstenaars en Francois Kleynhans, beter bekend as Sanfrandisco, is ’n deurwinterde Afrikaanse musikant en een van die dryfkragte agter die gewilde rockgroep Glaskas vier ware vriendskap in ’n nuwe enkelsnit. ’n Samewerking wat lank broei—selfs al was dit nooit doelbewus beplan nie—sien nou die lig met die vrystelling van hul splinternuwe enkelsnit, “My Bra”. Die lied is ’n warmhartige, eerlike en opwindende viering van vriendskap, lojaliteit en ware broederskap in moderne Suid-Afrika.

Hoewel die kunstenaars nooit oorspronklik ’n duet oorweeg het nie, het “My Bra” natuurlik ontstaan uit die baie ure wat hulle saam op die pad deurbring. “Met al die tyd wat ons in die kar spandeer, was dit eintlik ’n natuurlike ding wat gebeur het,” verduidelik Francois.

Juan het die grondslag gelê deur van die lirieke te skryf, waarna Francois die produksie verder begin vorm het en die lied sy energieke, moderne flair gegee het. “Dit is ’n liedjie wat ek begin het, en hy het dit verder gevat,” sê Juan.

Die hart van die lied lê in die woord bra – ’n eg-Suid-Afrikaanse term wat veel meer beteken as net “vriend”. Francois stel dit so: “’n Bra is amper ’n ou in sy eie klas. Mens het baie vriende en kennisse, maar nie almal is bra’s nie.”

“My Bra” vang hierdie unieke band vas met lirieke wat spreek van vertroue, lojaliteit en die soort kameraadskap wat staande bly deur dik en dun. Dit skets die prentjie van ’n vriend wat altyd opdaag, altyd op jou skouer loer, en altyd saam die pad ry – selfs al is dit ’n grondpad.

Sanfrandisco het elemente van sy eie styl ingekleur—veral sy liefde vir country-kitaar—maar steeds met die elektriese, ritmiese randjie waarvoor sy produksies bekend is. “Ek is ’n blerrie groot country fan, so ek wou dit beslis deel maak, maar natuurlik op ’n Sanfrandisco-manier,” lag hy.

Met sy warm, nostalgiese gevoel, gemeng met ’n moderne produksie-edge, is die lied perfek vir enige braai, langpadrit of kuier saam met jou tjommies. “Ek wou kan braai saam my bra op die musiek!” grap Francois.

Die aanvanklike konsep vir die lied het ironies genoeg ook in die kar ontstaan. Terwyl Juan verder aan die lirieke gewerk het, het een van die snaaksste oomblikke gebeur toe Francois sy eie vers moes sing maar glad nie kon onthou wat hy twee weke tevore geskryf het nie. “Juan vra my: ‘Is jy reg?’ Ek sê toe: ‘Nee!’ Jy’t my woorde vir my oor die foon gelees – ek het geen clue wat my woorde is nie!”

Vir Juan was dit ’n vars uitdaging om sy kenmerkende liriese styl binne ’n meer ritmiese, moderne produksie te plaas. Sy stem bring die nodige warmte en emosie, terwyl die upbeat produksie dit perfek balanseer met ’n “lekker vibe” waar luisteraars spontaan saam kan sing.

Die twee kunstenaars voer die lied reeds live saam op—’n natuurlike gevolg van hul huidige toer. Die chemie tussen hulle op die verhoog bevestig waarom “My Bra” so outentiek en geloofwaardig voel. En ja, verdere samewerkings klink beslis moontlik.

Uiteindelik hoop beide kunstenaars dat luisteraars die lied sal ervaar as ’n viering – “’n celebration van vriendskap,” soos Francois dit stel. My Bra herinner ons dat in ’n wêreld vol oppervlakkige kontakte, ware vriendskap skaars én kosbaar is.

Volg vir Juan Boucher op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za