Die Suid-Afrikaanse aanbiddingskunstenaar Carl Kitshoff stel sy nuwe enkelsnit, “Psalm 23”, amptelik vry. Die lied sal beskikbaar wees op alle groot digitale stroomplatforms en beloof om luisteraars diep te raak met ’n tydlose boodskap van hoop, vrede en die onwankelbare nabyheid van God.
Hoewel Psalm 23 een van die bekendste en mees geliefde Skrifgedeeltes in die Bybel is, het Carl aanvanklik nooit gedink hy sou dit self as lied verwerk nie.
“Ek het altyd gesê ek sal nooit ’n liedjie skryf oor Psalm 23 nie, want dit voel so ‘been there, done that’,” vertel Carl. “Tot die Here vir my ’n nuwe waarheid deur die Skrif oopgemaak het. Ek het een aand met my kitaar gesit, en die woorde ‘Die Here is my Herder’ het net begin vloei.”
“Psalm 23” dra die bekende woorde van Dawid op ’n vars, moderne aanbiddingsmanier oor. Die lied begin eenvoudig en opreg met die verklaring: “Die Here is my Herder, niks sal my ontbreek nie,” voordat dit luisteraars lei na die sterk en vertroostende koor: “Al loop ek deur ’n donkerkloof, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my.”
Vir Carl is hierdie lied meer as net ’n verwerking van ’n bekende Psalm. Dit is ’n persoonlike getuienis.
“Ek het al baie in my lewe deur ’n vallei gestap en gesien dat die Here regtig saam stap,” sê hy. “Selfs in die moeilikste oomblikke van my lewe was Hy by my, het Hy vir my geveg en het Hy my gedra.”
Die lied is gebore uit ’n seisoen van groot verandering, onsekerheid en geloofstappe. Carl beskryf die afgelope tyd in sy lewe as ’n deurmekaar seisoen waarin die vallei soms lank gevoel het en die storms groot was. Tog het Psalm 23 vir hom nuut geword.
“Wanneer Hy werklik jou Herder is, staan Sy belofte vas dat Hy saam met jou stap,” verduidelik Carl. “Maar meer as dit: Hy lei jou na rus, vrede en heelheid. Selfs in die middel van die deurmekaar, wanneer Hy by jou stilstaan, kan niks teen jou kom nie.”
Die sentrale boodskap van “Psalm 23” is eenvoudig, maar kragtig: selfs wanneer ’n mens deur donker tye gaan, hoef jy nie bang te wees nie. God beskerm, Hy is naby, en Hy stap saam.
Carl glo dat ’n vallei nie ’n teken is dat God iemand verlaat het nie, maar eerder ’n uitnodiging om saam met Hom daardeur te stap.
“Ons is soms skuldig daaraan om te dink die Here stap weg van ons af wanneer ons in moeilike omstandighede is,” sê hy. “Maar die waarheid van die Woord is dat Hy ons nooit verlaat nie. Hy is altyd naby.”
Die brug van die lied, “U is naby, altyd naby, U stap saam met my,” vat vir Carl die hart van die evangelie saam.
“Die Here belowe nie dat ons nooit deur moeilike tye sal gaan nie,” sê hy. “Maar Hy belowe dat ons nooit alleen daardeur hoef te gaan nie. Op my eie geloofspad het ek keer op keer ontdek dat Sy teenwoordigheid genoeg is, selfs wanneer ek nie al die antwoorde het nie.”
Musikaal beskryf Carl “Psalm 23” as ’n moderne aanbiddingslied met ’n vars en eerlike klank. Dit dra die tydlose waarheid van Psalm 23, maar op ’n manier waarmee vandag se luisteraar maklik kan identifiseer.
Die lied is opgeneem by Coolerbox Records, met Francois as vervaardiger. Carl se vrou was ook betrokke by die proses en het hom gehelp om die waarheid van Psalm 23 op ’n unieke manier deur melodie en verwerking vas te vang.
Volgens Carl was daar besonderse oomblikke tydens die opnameproses waar die boodskap van die lied hom weer opnuut geraak het. Hy beskryf dit asof die Here hom deur die proses herinner het aan Sy nabyheid. ’n Spesiale deel van die opname was ook die gesprekke met Francois oor hulle jare se ervaring in kerke, musiekbediening en aanbidding, en hoe God se beloftes deur alles heen vas bly staan.
“Hierdie lied is meer persoonlik vir my as van my vorige vrystellings,” sê Carl. “Dit kom uit ’n seisoen waar ek self die waarheid van Psalm 23 op ’n nuwe manier moes ontdek en vasgryp.”
Carl se hart was nog altyd om mense deur musiek nader aan Jesus te wys. “Psalm 23” pas natuurlik by daardie roeping, omdat dit luisteraars herinner aan God se liefde, sorg, beskerming en teenwoordigheid.
Die lied is geskryf vir enige iemand wat deur ’n moeilike seisoen gaan en herinner moet word dat die Here steeds naby is. Carl wys daarop dat die Skrif sê: “Al loop ek deur ’n donkerkloof” — en dat die woord “deur” vir hom ’n belangrike belofte dra.
“Dit is nie stilstaande nie,” sê hy. “Dit gaan verbygaan.”
Carl hoop dat mense na “Psalm 23” sal luister in tye van onsekerheid, pyn, verlies of vrees, maar ook in oomblikke van aanbidding en dankbaarheid. Hy hoop ook dat kerke en aanbiddingspanne die lied in eredienste sal begin gebruik.
“Dit sal vir my ’n groot voorreg wees as gemeentes hierdie waarheid saam kan sing en beleef,” sê hy.
Benewens die klankvrystelling sal daar ook ’n musiekvideo en lyric video vir “Psalm 23” beskikbaar wees.
Carl se gebed vir elke persoon wat na die lied luister, is dat hulle nie net die lied sal hoor nie, maar die waarheid daarvan sal ervaar: dat God naby is, dat Hy lei, beskerm en nooit Sy kinders alleen los nie.
“Psalm 23 is ’n herinnering dat die Here ons nie altyd uit die vallei uit vat nie, maar Hy belowe om saam met ons daardeur te stap,” sê Carl.
“Psalm 23” sal beskikbaar wees op alle groot digitale stroomplatforms.
















