Optredes

  • Langpad Rebelle
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid
Jul 29, 2026

Brandweerman, Klankman, Gesinsman — Die Stil Held Agter Afrikaans Musiek

Wanneer jy ’n Afrikaanse musiekfees bywoon of ’n volgepakte teater se klank hoor dreun, is daar ’n goeie kans dat dit een man se handewerk agter daardie helder, foutlose klank lê: Shane Enever. Vir die meeste kunstenaars is hy nie net ’n tegnikus nie — hy is familie. Maar lank voor die teaters, venues, luidsprekers en toerbusse, was Shane iets heel anders: ’n jong seun in Boksburg wat met groot oë die brandweerwaens in die Hoofstraat agternagesit het.

Vandag, tien jaar ná ’n drastiese loopbaanverandering, is hy een van die mees betroubare klankmanne in die Afrikaanse bedryf. Sy storie is dié van roeping, hart, trauma, groei — en bowenal: menswees.

“Ons het in Boksburg gebly, in die Hoofstraat,” vertel Shane. “Elke keer as ek die brandweertrokke hoor aankom, het ek vir my ma gesê ek wil ’n brandweerman word.”

Daardie kinderdroom het nooit weggegaan nie. Op 16 begin hy studeer, vasberade om die uniform te dra. Vier jaar later word hy op die ouderdom van twintig amptelik as brandweerman aangestel. Dit was die begin van ’n loopbaan vol adrenalien, heldedade en hartseer.

Sommige tonele vergeet ’n mens nooit. Vir Shane is daar een wat hom altyd sal bybly: die redding van die 17-maande-oue Jacqueline Smith.

Hulle het haar op die toneel kon bybring. Sy is hospitaal toe, en soos tradisie dit voorskryf, het die brandweer vir haar ’n “Survivor Badge” gegee — ’n eerbetoon aan kleintjies wat veg. Shane het dit self op haar rokkie vasgesit.

Maar vyf dae later breek die nuus. “Haar ouma se eerste woorde was: Shane, sit jy?

Die babatjie het van komplikasies gesterf.

“Ons is begrafnis toe. En toe sê haar ouers vir my die badge wat ek vir haar gegee het… sy wou dit nooit afhaal nie. Hulle het dit langs haar koppie in die kis gesit. Vir my sal sy altyd ’n warrior bly,” sê hy sag.

Dit is hierdie tipe oomblikke wat ’n mens se siel vorm — en dalk ook die rede waarom Shane vandag met so veel empatie, kalmte en menslikheid in die musiekbedryf werk.

Shane se draai na die musiekbedryf was onverwags, maar nie sonder betekenis nie. Hy het deeltyds DJ gewerk op naweke wanneer hy nie by die brandweer was nie, en uiteindelik saam begin werk met voormalige Idols-kunstenaars.

Maar die keerpunt?
“Toe ek saam Juan Boucher begin werk het,” sê hy. “Elke naweek was ’n show. En dit is daar wat ek geweet het: dít is wat ek wil doen.”

Die probleem was verlof — brandweermanne kry nie maklik naweek-vrye dae nie. Juan self was die een wat uiteindelik die knoop deurgehak het.

“Hy het vir my gesê: ek dink jy moet bedank en saam met my werk. Ek het gedink… maar dit was nie eens ’n maand nie, toe sit ek my bedanking in. En ja — die res is geskiedenis.”

Vandag, ’n dekade later, is hy steeds n’ klankman vir talle ander Afrikaanse kunstenaars.

Shane se opleiding in klank was nie formeel nie, maar prakties en intens. Groot name soos Steve Hofmeyr, Dozi, Sunette Bridges en Dowwe Dolla het sy mentors geword.

“Ons het baie getoer in 2003, en dit is waar ek alles geleer het — wat om te doen, hoe om dit te doen, en wat die vereistes in die bedryf is.”

Mens sou dink die brandweer en die musiekbedryf kon nie verder van mekaar wees nie. Maar Shane sien die ooreenkomste duidelik:

“Oppad na ’n toneel weet jy nie wat wag nie. By ’n live show is dit die adrenalien om te weet of jou klank reg is. Die eerste twee liedjies is krities.”

“Die grootste uitdaging was om seker te maak ek het al die toerusting wat ek nodig het. Elke kunstenaar het hul eie spesifikasies.”

Vir Shane is die mees onderskatte deel van klankwerk eenvoudig: die opstel en afbreek.

“Dit is swaar werk. Die toerusting dra, die bus pak, die kabels, die fyn instel… mense sien nie wat dit verg nie.”

As jy hom vra watter item in sy toolkit nie onderhandelbaar is nie, glimlag hy:
My desk.

Hoewel baie mense dink hy is ’n “loskop joller”, sê Shane hy is eintlik net ’n gewone gesinsman.

“Ek is net Shane, ’n doodgewone ou. Ek kuier nie elke naweek nie. Ek maak tyd vir my kinders — selfs in die dae toe ek om vieruur die oggend moes ry van ’n show af en sewe-uur weer by die werk moes wees.”

En bo alles: hy sal nooit ophou dankbaar wees vir die man wat hom in die musiekbedryf gesien het nie.

“Juan Boucher het my gemaak wie ek is in die bedryf vandag. As dit nie vir hom was nie, sou niemand geweet het wie Shane Enever is nie.”

 

Shane het selfs al op kamera verskyn — iets wat min mense van hom weet.

  • In Jan Rhaap se “Elmboog na Bo” speel hy ’n sagte metro-man wat gin drink. “Dis glad nie wie ek is nie, maar dit was baie interessant!”
  • Sy heel eerste rol in ’n musiekvideo was vir Rudi Muller — ’n emosionele ervaring omdat die liedjie sterk met sy kinders resoneer.

Oor vyf jaar sien hy homself steeds presies waar hy is: met die beste kunstenaars, meer toer, nóg groter shows.

Sy raad vir ander wat ’n groot loopbaanverandering oorweeg

“Geniet elke oomblik. Maak die skuif as dit jou gelukkig maak. Moet nie te veel jou kop daaroor breek nie. Dinge loop partykeer skeef, maar moet nooit opgee nie. Jy kry net een lewe — geniet dit.”

Shane Enever is een van daardie skaars mense wat, ongeag watter beroep hy aanpak, altyd sy volle hart gee. As brandweerman het hy lewens gered. As klankman bou hy aan ervarings, herinneringe en musiek oomblikke wat duisende mense raak.

Maar uiteindelik is hy steeds dieselfde man wat op die stoep in Boksburg gestaan het en gedroom het van sirenes, vuur en heldedade.

Hy het sy roeping gevind — net op ’n ander verhoog.

 

Volg vir op:

Optredes

  • Langpad Rebelle
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
  • Noord Tot Suid