Fanus Pienaar is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Vat Haar Bietjie Plaas Toe” — ’n vrolike, kitaar-gedrewe Afrikaanse country-pop-rock liedjie wat met hope sokkie-energie, humor en hart kom wys dat plaaslewe nie net uit sonsondergange, koffiebekers op die stoep en ’n Hilux in die lande bestaan nie.
Met sy kenmerkende mengsel van moderne Afrikaanse country, pop en rock skep Fanus musiek met persoonlikheid, eerlikheid, trots en nostalgie. Sy klank is ritmies, vars en toeganklik, maar bly gewortel in temas van identiteit, herkoms en die dinge waarvoor ’n mens staan. “Vat Haar Bietjie Plaas Toe” sluit perfek hierby aan: dit is lig, lekker, catchy en gemaak om saam te sing — maar onder die glimlag lê ’n boodskap wat menige luisteraar sal laat knik en sê: “Dis die waarheid.”
Die inspirasie vir die lied het ontstaan ná die sukses van Fanus se gewilde “John Deere Hoed”, ’n liedjie wat tot dusver een van die grootste hoogtepunte in sy loopbaan is en na aan goue status beweeg. Ná dié sukses het Fanus begin dink aan die bekende prentjie van die “plaasmeisie” of stadsmeisie wat droom van ’n boer — veral soos kykers dit dikwels in programme soos Boer Soek ’n Vrou sien. Die romantiese idee van boerdery word maklik verkoop as trekker ry, mooi lyk en hande vashou teen sononder, maar die werklikheid vra veel meer: vroeg opstaan, harde werk, stof, sweet, opoffering en verantwoordelikheid.
“Ek wil hê mense moet lag, maar ook knik en sê: dis die waarheid,” vertel Fanus. “‘Vat Haar Bietjie Plaas Toe’ is lig en lekker, maar daar’s ’n regte boodskap agter dit. Boerdery is nie net ’n Instagram-prentjie nie — dis harde werk, opoffering en verantwoordelikheid. Dis ’n kuierlied, maar ook ’n klein herinnering dat die regte meisie nie net vir die bakkie en die trekker lief is nie, maar vir die man en sy wêreld.”
Fanus het die lied self geskryf op ’n middag terwyl hy kitaar getokkel het. Die idee en woorde het vinnig gevloei, en teen daardie selfde middag was die lied byna klaar. Die enkelsnit is vervaardig deur Werner Beukes, met vokale wat by Conxion Studios deur Jaco Prinsloo opgeneem is.
Vir Fanus is die lied ook persoonlik. Hy is self lief vir die bos, die plaas en die tipe lewe wat met eenvoud, natuur en deursettingsvermoë gepaardgaan. Hy moes lank wag vir die regte persoon wat nie net die mooi oomblikke saam met hom kon geniet nie, maar ook die uitdagings, opofferings en harde werk van sy loopbaan as sanger en liedjieskrywer kon verstaan.
“Vir my gaan liefde nie net oor die mooi oomblikke en geld nie,” sê Fanus. “Dit gaan oor iemand wat bereid is om saam met jou deur die stof, die sweet en die lang dae te stap.”
Gebore en grootgeword in Pretoria in ’n streng Afrikaanse huis, was musiek van kleins af deel van Fanus se wêreld. Sy ouers was groot musiekliefhebbers, sy pa het kitaar en klavier gespeel, en daar was sterk invloede van country, 80’s-musiek en Afrikaanse musiek in die huis. Ook sy oupa se liefde vir digkuns en sy ouma se musikaliteit het ’n merk op hom gelaat. Dit is juis uit dié agtergrond waar sy liefde vir Afrikaanse musiek, kitaar speel en skryf gegroei het.
Een van die belangrikste mylpale in sy loopbaan tot dusver is om deel te wees van die VONK Musiek-groep — ’n hoofstuk wat vir Fanus nuwe momentum en kreatiewe groei beteken.
“Vat Haar Bietjie Plaas Toe” is uiteindelik ’n tong-in-die-kies plaas-sokkie liedjie met karakter. Dit spot met liefde, verwagtinge en die geromantiseerde idee van boerdery, maar doen dit met ’n warm hart en tipiese Suid-Afrikaanse humor. Dit is die tipe lied wat perfek pas by die bakkie se radio, ’n braaivleisvuur, ’n plaasjol of ’n dansvloer waar voete sommer vanself begin jeuk.
Soos Fanus dit self opsom: “Dis lig, dis lekker, catchy en mens kan lekker saam sing terwyl jou voete jeuk om iemand vir ’n draai op die dansvloer te vat.”
’n Musiekvideo vir “Vat Haar Bietjie Plaas Toe” word beplan.
Komende optredes
Fanus Pienaar kan binnekort regstreeks gesien word by:
Sondag 12 Junie – Fanus Pienaar LIVE by Cool Runnings Benoni, 13:00
Sondag 14 Junie – Fanus Pienaar LIVE by Jakkalsgat Resort, 12:00
Saterdag 27 Junie – Fanus Pienaar LIVE by ATKV Buffelspoort, 13:00















