Okt 17, 2025

“Hier om te bly” – ’n Viering van Afrikaans, Vriendskap en Volharding

’n Kragtige nuwe samewerking tussen drie gevestigde Afrikaanse kunstenaars — Wynand Strydom, Deon Groot en Jan Rhaap — bring die siel van Afrikaans na die voorgrond met hul jongste vrystelling, “Hier om te bly”. Die liedjie, geskryf deur Pierre Rossouw en Francina Jacoba Grobler, is meer as net musiek: dis ’n verklaring, ’n trotsverklaring van identiteit en taal, en ’n huldeblyk aan die mense wat Afrikaans leef, praat en beskerm.

Die oorspronklike idee vir “Hier om te bly” het by Wynand Strydom ontstaan as deel van sy nuwe solo-album, maar die projek het vinnig gegroei tot iets veel groter. Strydom wou die lied kombineer met die viering van 100 jaar van Afrikaans, en het gevoel dat hy beslis Deon Groot en Jan Rhaap by die projek moes betrek.

“Ek wou iets doen vir Afrikaans – iets wat eerlik sê: ons taal is hier om te bly,” verduidelik Wynand. “Ek kon dink aan niemand beter as Deon en Jan om daardie boodskap saam te dra nie.”

Vir die driemanskap is “Hier om te bly” meer as ’n lied — dis ’n getuienis van trots en identiteit. Die lirieke, deurdrenk van beeldspraak en emosie, dra temas van erfenis, volharding en lojaliteit.
Deon Groot sê:

“Dit bring die taal terug met vriende – ’n waardering vir wat ons het en is. Ons gaan nêrens nie, en ons vat ons taal saam.”

Jan Rhaap voeg by:

“Afrikaans is sterk en sal nog vir baie eeue hier wees. Dis ons plig om haar te beskerm, koester en vier.”

Volgens Wynand het die liriekskrywers, Pierre Rossouw en Francina Grobler, perfek die emosionele hart van die lied vasgevang.

“Ek en Francina is al meer as 20 jaar vriende. Sy het ’n ongelooflike vermoë om dinge te sê wat aan die hart raak. Pierre het weer meesterlik ’n melodie geskep wat 100% aansluit by die lirieke,” vertel Wynand.

Hoewel die drie kunstenaars op verskillende plekke in Suid-Afrika woon en dus nie saam in die ateljee kon wees nie, was die samewerking steeds natuurlik en eerlik.

“Ons ken mekaar al lank en is goeie vriende,” sê Jan. “Ons werk hard, maar lag net so hard. Dit was ’n lekker, eg Afrikaanse ervaring.”

Die projek is ondersteun deur Wildebeest Brandewyn en Vriende, wat al jare saam met Wynand werk.

“Wildebeest bring daardie gees – daardie trots in wie ons is,” sê Deon. “Dis so sterk soos ons moedertaal self.”

Wynand voeg by dat die vennootskap met Wildebeest natuurlik voel:

“Ons deel dieselfde waardes – trots, vriendskap, en liefde vir Afrikaans. Dis waaruit hierdie projek gebore is.”

“Hier om te bly” is nie net ’n viering van die verlede nie, maar ook ’n belofte vir die toekoms.

“Elke keer as jy iets nuuts in Afrikaans skep, dra dit by tot die erfenis van ons taal,” sê Wynand. “Ons wil mense herinner aan hoe mooi en kragtig Afrikaans is.”

Jan Rhaap vat dit perfek saam:

“Ons ís Afrikaans.”

En Deon eindig eenvoudig maar kragtig:

“Vriende – dis wat hierdie lied beteken.”

“Hier om te bly” deur Wildebeest Brandewyn en Vriende, met Wynand Strydom, Deon Groot en Jan Rhaap, is nou beskikbaar op alle groot digitale platforms. Die musiekvideo, ’n visuele viering van die Afrikaanse gees, volg binnekort.

Volg vir Wynand Strydom op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za