Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm
Mei 22, 2026

Leo Sonskyn Stel Sy Eerste Engelse Enkelsnit, “Dance All Night”, Bekend

Die geliefde kunstenaar Leo Sonskyn betree ’n opwindende nuwe hoofstuk in sy musiekloopbaan met die vrystelling van sy splinternuwe enkelsnit, “Dance All Night” — sy eerste Engelse liedjie.

Met “Dance All Night” bring Leo ’n diep persoonlike, eerlike en geestelike verhaal na vore. Die lied begin met ’n gevoel van verlies en soeke — “I was down, I was lost…” — en neem luisteraars op ’n reis van donkerte na lig, van onsekerheid na vrede, en van gebrokenheid na vreugde.

Volgens Leo is die lied direk geïnspireer deur sy eie lewenspad voordat hy Jesus geken het.

“Dit vertel ’n storie van my verlede waar ek nie Jesus geken het nie. Dit is ’n direkte konneksie tot hoe ek gevoel het voor ek Jesus ontmoet het,” vertel hy.

Die liriek “freedom in her eyes” dra ’n sterk simboliese betekenis. Vir Leo verteenwoordig hierdie beeld nie noodwendig ’n spesifieke persoon nie, maar eerder die teenwoordigheid van die Heilige Gees en Wysheid. Hierdie geestelike laag gee die lied ’n besondere diepte, terwyl die energieke refrein dit terselfdertyd toeganklik, hoopvol en vierend maak.

“Dance All Night” is nie bloot ’n danslied nie. Dit is ’n lied oor transformasie, geloof en innerlike bevryding. Die woorde “Sketched into my soul” verwys vir Leo na die vrede en geluk wat die Heilige Gees in sy lewe ingebring het, terwyl die refrein — “Danced all night, sing all day” — die vreugde vasvang wat hy ervaar het ná sy ontmoeting met Jesus.

“Dit verteenwoordig die geluk wat ek as mens ervaar het toe ek my ontmoeting met Jesus gehad het,” sê Leo.

Hoewel die lied ’n sterk introspektiewe begin het, bou dit uit na ’n gevoel van viering. Hierdie kontras was doelbewus.

“Die hele idee was om iets diep te skryf wat ons kan geniet,” verduidelik hy.

Die lied reflekteer ook oor keuses, oorlewing en groei. In die liriek “All these roads I will walk I have decided” beklemtoon Leo hoe belangrik selfbesluit en persoonlike verantwoordelikheid in sy lewe en musiek is.

“Ek glo besluite vorm jou wese. En dit wat jy toelaat, word deel van jou,” sê hy.

Vir Leo is “Dance All Night” een van sy mees persoonlike vrystellings tot dusver. Musikaal beweeg dit nader aan die klanke waarna hy self graag luister, terwyl dit emosioneel ’n eerlike blik gee op wie hy is en waar hy vandaan kom.

“Die spesifieke lied vertel ’n storie van wie ek is op ’n persoonlike vlak,” sê hy.

Met ’n boodskap wat universeel en hoopvol is, hoop Leo dat luisteraars van alle agtergronde met die lied sal kan identifiseer. Sy wens is eenvoudig: dat mense die lied sal geniet — en dat dieper betekenis vanself sal ontvou.

“Ek hoop net hulle geniet die liedjie. Ek weet die Here en die Heilige Gees sal die res doen,” sê hy.

As hy die boodskap van “Dance All Night” in een sin moet opsom, stel Leo dit só: “Leer jou hart ken en kom agter wat jy nodig het.”

Ná hierdie vrystelling beplan Leo om nog musiek met sy luisteraars te deel, insluitend moontlike gospel-covers én weer ’n Afrikaanse treffer.

“Daar is baie musiek wat kom. Ek wil bietjie covers opneem en release ook van gospel songs — en definitely weer ’n Afrikaanse banger,” sluit hy af.

“Dance All Night” is ’n lied van geloof, vreugde en oorwinning — ’n nuwe klank vir Leo Sonskyn, maar met dieselfde hart en eerlikheid wat sy musiek so besonders maak.

Volg vir Leo Sonskyn op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za

Optredes

  • Oos Wes Tuis Bes
  • Tot Daar Waar Die Lig Is
  • Twee Klein Oseane
  • KleinGroenBlohm