Jan 16, 2026

Louis Van Lill Vier Weskus-Erfenis Met Nuwe Enkelsnit “Oom Kiewiet”

Die sanger en liedjieskrywer Louis van Lill bring die Weskus se mense, atmosfeer en onvertelde stories na die voorgrond met sy nuwe enkelsnit, “Oom Kiewiet” – ’n nostalgiese, humorvolle en diep kulturele huldeblyk aan Velddrif, sy vissermanne en die legendes wat daar woon.

Die inspirasie vir “Oom Kiewiet” het sy oorsprong gekry by ’n welbekende figuur in Velddrif. Oom Kiewiet, wat vir baie jare die Riviera Hotel bestuur het, is ’n karakter wat diep verweef is met die dorp se geskiedenis. Die hotel, die mense en die jaarlikse kanomarathon – wat eindig by die Carinus-brug – vorm die lewende toneel waaruit die lied gebore is.

“Die Weskus het sy eie taal, sy eie ritme en sy eie mense,” vertel Louis. “Wanneer die vissermanne praat van ‘hulle loop oor die water’, bedoel hulle die bote, skuite en kanovaarders wat die rivier vul. Dis waar die beeld vandaan kom – nie dat Oom Kiewiet self oor die water loop nie,” lag hy.

Die lirieke roep ’n herkenbare beeld op: bokkoms in die laan, Cerebos-sout in die lug, vissermanne wat hul stories deel en die unieke geure van ’n Weskus-menu. Hierdie besonderhede kom direk uit Louis se herinneringe:

“Riviera Hotel, Bokkomlaan, die kanomarathon… dis alles deel van die Weskus se hartklop. Die mense kuier, die water leef, en die stories loop saam met die stroom. Dis daardie wêreld wat ek wou vasvang.”

Elemente soos ’n kuil en bokstang, wat deel is van ’n vissersboot, laat luisteraars wonder — presies soos Louis dit bedoel het. “Ek wil hê mense moet dink, moet vra: Wat beteken dit? Want hierdie taal ís Weskus. Dis nie alledaags nie.”

Vir Louis simboliseer Oom Kiewiet nie net ’n persoon nie, maar ’n hele leefstyl. “Hy’s ’n legende. Almal hier ken hom. Die lied dra sy naam omdat die kuier altyd by sy hotel eindig. Dis die spilpunt van die dorpie se lewe.”

Een van die mees kragtige lirieke verwys na die man wat teen die stroom roei “tot sy arms pyn”. Hierdie reël het sy oorsprong in ’n werklike oomblik: ’n visserman wat langs Louis gestaan het tydens die marathon, en opgemerk het hoe die mans roei tot hul armpies pyn.

Dit het vir Louis ’n metafoor geword vir die mense van die Weskus: vasbyt, trots en vol gees.

“Sonder die nostalgie en die gemeenskap sou hierdie lied nie bestaan het nie… dit is alles,” sê Louis. Die lied roep ’n gevoel van tuiskoms op – ’n plek waar almal mekaar ken, waar daar met sout en stories om elke tafel gedeel word, en waar elke kuier sy eie musiek het.

Die produksie deur Tertius Human het die presiese atmosfeer vasvang wat Louis gehoop het. “Toe ek die eerste weergawe hoor, was ek dadelik tevrede. Dit klink soos die Weskus gevoel.”

Interessant genoeg is die lied geskryf in Thys Rower se huis – dieselfde huis wat in sy musiekvideo vir “Seerower” verskyn. Dit is ook daar waar die visserman se opmerking oor die roeiende manne die finale stuk van die lied se legkaart gevorm het.

Hy hoop mense neem die misterie, die humor, die taal en die erfenis saam. “Ek wil hê hulle moet wonder… Hoe loop jy oor die water tot jou arms pyn? Wat is ’n kuil en ’n bokstang? Dit moet hulle aan die dink sit. Want dis Weskus. Dis nie net ’n lied nie – dis ’n kultuur.”

Volg vir Louis van Lill op:

PUBLISITEIT & BEMARKING :
Vonk Musiek
Ashley Du Toit
Sel: 083 963 3055
E-pos: ashley@vonkmusiek.co.za

PLATEMAATSKAPPY :
Vonk Musiek
Francois Roux
Tel : 011 823 1771 / 061 312 2160
E-pos : francois@vonkmusiek.co.za