Nicholis Louw en Pieter Pruis span saam vir ’n lied wat met ’n breë glimlag, ’n sterk koppie koffie en ’n goeie skeut Afrikaanse humor die oggendstryd vier. Hul nuwe enkelsnit, “Feit soos ’n Koei”, is ’n stout, energieke en lekker windmakerige lied oor daardie bekende gevoel wanneer die son opkom, maar jy nog lank nie gereed is vir die dag nie.
Met lirieke soos “Ek is nooit op my beste in die oggend nie”, “my kop voel muf en my oë vol sand” en “los my net alleen met ’n boerbeskuit”, vang die lied ’n alledaagse waarheid vas waarmee baie luisteraars dadelik sal kan vereenselwig. Dit is ’n lied vir die koffie-afhanklikes, die snooze-knoppie-drukkers, die hardwerkende manne en vroue, en sommer elkeen wat al ooit eers moes wakker word voordat die wêreld met hulle mag praat.
Volgens Nicholis het “Feit soos ’n Koei” reeds ’n paar jaar gelede ontstaan, maar hy het aanvanklik nie gevoel dat dit noodwendig vir hom alleen sou werk nie. Toe die moontlikheid van ’n duet tussen hom en Pieter op die tafel kom, het hulle eers aan ’n ander lied gewerk, maar was nie heeltemal oortuig dat dit die regte een was nie.
“Ek het toe ‘Feit soos ’n Koei’ vir Pieter voorgelê, en ons albei het besluit dit sou die een wees,” vertel Nicholis. “Hy het my toe gehelp om die liedjie klaar te skryf gedurende die opnamesessies.”
Vir Pieter het die lied dadelik natuurlik gevoel. “Die idee van ’n duet tussen my en Nicholis was al vir ’n ruk op die tafel,” sê hy. “Ons het aanvanklik na ander liedjies gekyk, maar toe hy vir my ‘Feit soos ’n Koei’ speel, het ek dadelik gevoel daar is iets besonders daarin.”
Die samewerking tussen die twee kunstenaars werk juis omdat hulle mekaar se sterk persoonlikhede en herkenbare style nie probeer tem het nie. Inteendeel, hulle het elkeen hul eie geur by die lied gevoeg. Nicholis beskryf die proses as gemaklik en gebou op wedersydse respek, terwyl Pieter meen dat die lied organies gegroei het sonder dat iets geforseerd gevoel het.
“Ons het nie probeer om mekaar te verander nie,” sê Pieter. “Ons het net elkeen ons eie geur by die lied gevoeg.”
Nicholis meen Pieter se stemtoon, uitspraak en unieke sanginfleksies bring ’n vars element na die produksie. “Pieter se talent en unieke manier van uitspraak bring iets nuut en vars na die liedjie, sowel as na die mark,” sê hy. “Die liedjie self is baie prettig,
en die orkestrasie is redelik windmakerig. Aan die einde van die liedjie kan mens amper nie help om ’n glimlag op jou gesig te hê nie.”
“Feit soos ’n Koei” speel heerlik met die idee van iemand wat soggens sukkel om aan die gang te kom, maar tog weet dat die dag nie vir hom gaan wag nie. Tussen die komiese beelde van koffie, boerbeskuit, deurmekaar oggende en ’n kop vol sand lê daar ook ’n eenvoudige waarheid oor werk, verantwoordelikheid en deurdruk.
Die koor se sterk reël, “Die Here het gesê dat ’n man moet sweet,” gee die lied sy dryfkrag. Vir Nicholis verwys dit direk na die waarheid dat ’n mens moet werk vir wat jy het. “In Genesis 3 vers 19 het die Here vir Adam gesê dat hy slegs deur harde werk sou eet,” verduidelik hy. “Die reël trek tot vandag toe deur. Hoewel dit vandag baie makliker met die mensdom gaan, moet jy nog steeds werk vir wat jy het.”
Pieter sluit daarby aan en sê die lyn herinner luisteraars daaraan dat niks verniet kom nie. “As jy iets wil bereik, gaan daar werk, opoffering en deursettingsvermoë wees.”
Hoewel daar ’n onderliggende waarheid in die lied lê, beklemtoon albei kunstenaars dat “Feit soos ’n Koei” in die eerste plek ’n prettige lied is. Nicholis beskryf dit as “windgat, stout en prettig, met ’n bietjie bad ass ingeroer”, terwyl Pieter dit sien as “’n stout, energieke ode aan almal wat soggens sukkel om aan die gang te kom.”
Die lied se titel is ook perfek gepas. “Dis ’n feit soos ’n koei” is ’n tipiese Afrikaanse uitdrukking wat eerlikheid, humor en karakter in een sin vasvang. Volgens Pieter pas dit by die lied omdat dit nie terughou nie. “Dis eerlik, direk en met ’n knipoog – presies soos die uitdrukking self.”
Die lirieke is propvol oomblikke wat luisteraars sal laat glimlag. Nicholis noem veral reëls soos “Dit gaan sukkel-sukkel tot ek eers net vat,” “my kop voel muf en my oë vol sand” en “ek slinger heen en weer van kant tot kant” as van sy gunstelinge. “Dit het my nogal laat lag terwyl ek dit geskryf het, want dis tipies van my wanneer ek wakker word,” sê hy. “Ek kan amper nie in ’n reguit lyn loop nie.”
Pieter se gunsteling is ook die visuele beeld van ’n vroegoggend-kop. “My kop voel muf en my oë vol sand bly vir my goud,” sê hy. “Ek dink almal het al so gevoel.”
Die lied is nie net geskryf vir een tipe mens nie. Volgens Pieter is dit vir almal wat al ooit moeg wakker geword het. Nicholis sê eenvoudig: “Almal wat ore het om te hoor!”
Met sy mengsel van kuier, komedie, country en rock is “Feit soos ’n Koei” gemaak om voete te laat tik en mense te laat saamsing. Alhoewel Nicholis nie oorspronklik optredes en gehore in gedagte gehad het toe hy die lied geskryf het nie, is die saamsing-gevoel onmiskenbaar. Albei stem saam dat die publiek waarskynlik die koor die hardste gaan saam sing: “Die Here het gesê dat ’n man moet sweet!”
Wat hoop hulle moet mense voel wanneer hulle die lied hoor? Vir Nicholis is dit eenvoudig: “’n Glimlag op die bakkies, en die onbeheerbare gevoel om te skip na die begin en hom weer te luister.”
Pieter hoop ook mense lag, glimlag en druk sommer weer play. Hy vertel dat een van die snaaksste reaksies tot dusver was dat luisteraars gesê het hulle voel persoonlik aangeval deur die lirieke omdat dit hul oggende té akkuraat beskryf.
As “Feit soos ’n Koei” ’n toneel in ’n fliek was, sou dit volgens Pieter lyk soos iemand wat laat wakker skrik, sy koffie mors, teen ’n deurkosyn vasloop, maar uiteindelik met selfvertroue by die werk instap. Dit is presies die energie van die lied: effens deurmekaar, baie menslik, hardop snaaks en tog vol vasbyt.
Vir aanhangers van Nicholis Louw en Pieter Pruis is hierdie samewerking ’n lekker verrassing wat wys hoe goed hul stemme, persoonlikhede en sin vir humor bymekaar pas. Pieter sê hy hoop mense onthou dat hulle ongelooflik baie pret gehad het en dat daardie pret hoorbaar is in die lied.
Nicholis sluit af: “Die voelgoed-lawwigheid van die liedjie is wat mense moet onthou. Ek sou enige tyd weer met Pieter werk.”
Met “Feit soos ’n Koei” bewys Nicholis Louw en Pieter Pruis dat ’n lied nie altyd diep en ernstig hoef te wees om waar te voel nie. Soms is die waarheid so eenvoudig soos ’n moeilike oggend, ’n koppie koffie, ’n boerbeskuit en die besef dat die dag wag – of jy nou gereed is of nie.
“Feit soos ’n Koei” is nou beskikbaar op alle digitale platforms.
















