Die Afrikaanse sanger-liedjieskrywer WG Nel is terug met ’n splinternuwe enkelsnit, “Van Tonder” — ’n goedvoel-kuierliedjie wat klink soos ’n Vrydagmiddag, ’n warm braaivuur, rugby op die televisie en vriende wat net gou vir “een” kom inloer, maar uiteindelik tot laat kuier.
Met sy aansteeklike refrein, humoristiese lirieke en eg Afrikaanse karakter, stel “Van Tonder” luisteraars bekend aan daardie een persoon wat almal ken: die vriend wat altyd die gees bring, maklik nuwe mense ontmoet en van enige gewone naweek ’n fees maak.
Die idee vir die liedjie het spontaan by WG ontstaan terwyl hy op die pad was en aan ’n vriend van hom gedink het — Mnr. Van Tonder, wat op die H2A-program is. “Toe dink ek: vrek, hy is ’n wêreldwonder,” vertel WG. Daardie eenvoudige gedagte het later ontwikkel in die treffende frase: “My vriend Van Tonder is ’n Wêreld Wonder” — ’n reël wat waarskynlik die eerste deel van die liedjie gaan wees wat gehore hardop saam sing.
Hoewel “Van Tonder” geïnspireer is deur ’n paar regte persone, is die karakter in die liedjie ’n sameflansing van verskillende vriende, stories en ervarings. Volgens WG gaan dit oor manne wat die lewe nie altyd té ernstig opneem nie, mense wat daarvan hou om vriende om ’n vuurtjie bymekaar te kry en wat die kosbaarheid van saamwees verstaan.
“Die mense in my lewe is gewoonlik drastiese ekstroverte — mense wat ander mense goed laat voel,” sê WG. “Hulle het maklik ’n groep mense om hulle, want hulle bring lewe, humor en energie saam met hulle.”
Die liedjie dra ’n sterk kuier-, braai- en naweekgevoel, iets wat WG doelbewus wou vasvang. “Ek wou hê mense moet daardie goedvoel-, vereenselwigende naweekgevoel kry,” verduidelik hy. “Vir Afrikaners wat hou van braai, sosialiseer, mampoer stook en besef hoe kosbaar tyd saam met familie en vriende is, is hierdie liedjie geskryf.”
In tipiese WG Nel-styl meng “Van Tonder” humor met storievertelling. Die liedjie verwys na rugby kyk, vleis braai, mampoer stook, laat wees en natuurlik daardie vriend wat altyd nóg iemand ken. Maar onder die lag lê daar ook ’n nostalgiese gevoel oor vriendskap, lewensfases en die mense wat ’n mens se herinneringe kleur.
Die verwysing na Mevrou Van Tonder en die feit dat Van Tonder al twaalf jaar getroud is, bring ’n menslike en warmer dimensie na die karakter. “Ek wou wys dat mens deur die lewe se fases beweeg en dat sekere fases gekoester moet word,” sê WG. “Dinge stop nie altyd nie; dit pas dalk net bietjie aan.”
Vir WG is Afrikaanse kuierkultuur die “murg en been” van hierdie liedjie. “Ek kan nie dink hoe hierdie liedjie in ’n ander taal of kultuur dieselfde beleef sou word nie,” sê hy. Dit is juis hierdie egtheid wat “Van Tonder” so herkenbaar maak. Al het nie elke vriendekring noodwendig ’n Van Tonder nie, glo WG dat almal beslis een ken.
Die produksie van “Van Tonder” is behartig deur Muse Studio, met Hugo Ludik as vervaardiger. WG beskryf die samewerking as ’n voorreg. “Hugo en die Muse-span het die vermoë om ’n song verby dít wat ek in gedagte het te vat,” sê hy. “Hulle skep met produksie die gevoel wat ek met lirieke en ’n kitaar probeer oordra.”
Hoewel die liedjie reeds van die begin af energiek was, sê WG dat die finale produksie dit werklik na ’n volgende vlak geneem het. “Hy was so energiek soos wat ’n kitaar en stem hom kan kry op ’n voice recording, maar die produksie het dit regtig geamplify.”
“Van Tonder” pas gemaklik in by WG Nel se groter musikale identiteit: toeganklike Afrikaanse musiek met ’n storielyn, lirieke wat sag op die oor val en frases waarmee mense hulself kan vereenselwig. “Ek wil songs maak wat maklik luister en maklik saamsing, met effe van ’n storielyn,” sê hy. “Van Tonder pas vir my presies in daardie raamwerk.”
Meer as enigiets wil WG hê die liedjie moet mense laat glimlag, saam sing en dalk aan hulle eie “Van Tonder” laat dink. “Ek hoop mense identifiseer met die lied. Ek hoop dit val sag op die oor en is onmoontlik om nie saam te sing nie.”
En wat sou Van Tonder self sê as hy die song vir die eerste keer hoor? WG lag: “Ek hoor sommer die manne wat vereenselwig sê: ‘Dis mos ek!’”
Met “Van Tonder” herinner WG Nel luisteraars dat die lewe te kort is om suur te wees. Soos die boodskap agter die liedjie sê: wees lekker, maak tyd vir jou mense en waardeer die vriende wat altyd die gees bring.
Aanhangers kan ná “Van Tonder” uitsien na nog een of twee enkelsnitte, gevolg deur ’n EP wat later vanjaar vrygestel word.
















